Feedback Form
Share |
 
.
Waar en hoe om vir werk te soek

Die meeste mense besef nie hoeveel maniere daar werklik is om werk te soek nie, meeste dink daar is net drie maniere: deur 'n CV uit te stuur, advertensies te beantwoord of deur 'n plasingsagentskap te nader.

Hier is ’n paar idees wat volgens navorsing kan werk- in volgorde van mins tot mees doeltreffend.  Die feit bly staan dat meeste mense dieselfde aksie volg met dieselfde uitkoms.  Verbeter jou kanse deur ander maniere te volg


* Benut die internet en pos jou CV op 'n webtuiste (1%);
* Stuur jou CV arbitrêr aan verskeie werkgewers (7%);
* Reageer op advertensies in professionele en handelsjoernale (7%);
* Reageer op advertensies in plaaslike koerante (5-24%, afhangend van die salarisskaal);
* Gebruik 'n werwingsgentskap (5-24%, afhangend van verlangde salaris);
* Besoek plekke waar werkgewers werkers soek  (8%);
* Gebruik 'n staats- of regeringsindiensnemingdiens (14%);
* Vra hulp by familie, vriende of professionele kennisse (33%)
* Klop aan by 'n werkgewer wat jou interesseer, ongeag of daar 'n vakature is (47%);
* Bel werkgewers in die veld waarvoor jy opgelei is (69%);
* Volg dieselfde metode as bogenoemde, maar as deel van 'n groep werksoekers (84%);
* Die skeppende benadering: doen navorsing oor organisasies waarin jy belang stel; benut persoonlike kontakte vir bekendstelling aan iemand met invloed in die organisasie (86%).

Terug na bo
Reëls vir Werksoek Oorlewing

Gebruik die mees gepaste metode soos hierbo uiteengesit.

Berei voor vir Verandering: Doen navorsing oor die maatskappye vir wie jy graag sal wil werk. Doen ‘n ontleding oor jou vaardighede en wat jy nog mag benodig om ‘n ander beroep te betree, jy moet dalk vêrdere kursusse bywoon, ander vaardighede aanleer, ens. Jou CV moet professioneel wees (natuurlik is dit waarom ek hier is).

Berei voor vir Verrassings:  Verwag die onverwagte, onderhoudvoerders sal baie male jou van stryk probeer bring en natuurlik as jy nie voorbereid is nie, sal dit die gewenste uitwerking hê. Deur goeie voorbereiding en selfvertroue kan jy hierdie probleem sommer gou-gou oplos.  Doen navorsing oor tipe vrae wat gestel mag word. Indien jy genooi word vir onderhoude, maar geeneen suksesvol is nie, moet jy aan jou onderhoud tegnieke werk.  Waar moontlik, vra vir terugvoering na die onderhoud, dit is die beste manier om jou tekortkominge te verbeter.

Maak kontak met Mense wie alreeds die werk doen: Daar is geen beter manier om kennis in te win as om met kundige mense te praat nie.  Jy sal ‘n magdom informasie oor die posisie, werksomstandighede, ens. kry en natuurlik kan dit jou ‘n goeie idee gee oor wat van jou verwag kan word.

Verandering in Beroepskeuses is niks Snaaks nie: Dit is een van die beste maniere om jou vaardighede uit te bou en oor die algemeen word dit verwag dat elke werker ten minste 8 keer van werk sal verander. Deur ‘n professionele CV te gebruik sal jy baie maklik jou vaardighede en aanpasbaarheid teenoor die nuwe posisie uitwys.

Stof jou ou Vaardighede af en voeg Nuwes by: Vergelyk jou huidige vaardighede met verwagtinge in die nuwe rigting en jy sal gou enige tekortkominge kan sien en daaraan kan begin werk.

Gebruik die Internet: Die Internet het deure oopgemaak en almal ongelukkig onder ‘n wanindruk gebring.  Jy sal nie maklik werk vind deur heeldag jou CV op die Internet te laai nie.  Die hoeveel werk verbonde aan werksoek het geensins minder geword nie, juis nou sal jy moet uithaal en wys as jy suksesvol wil wees.  Die Internet is ‘n goeie plek vir navorsing, maar moet nie kop verloor en dink dat jy so ‘n werk sal vind nie. Indien dit moontlik is, doen dit self - eerder as om ‘n stuk papier (jou CV)  of ‘n stuk toerusting (telefoon of computer)  tussen jou en ‘n moontlike werkgewer te stel.

Gebruik jou Kontakte: Ons ken almal iemand wie iemand ken.  En dit is die een manier wat steeds werk, maak nie saak hoe ons daaroor voel nie. Dit werk vir mense wat bereid is om te vra, en die res sal dit as ‘n verskoning gebruik waarom dit nie vir hulle werk nie.


Maak seker dat jy ‘n Ondersteuningsgroep het: Vriende en familie, dit is van uiterste belang dat jy tydens hierdie proses die nodige steun het.  Want wees verseker, jy sal depressief en neerslagtig en swartgallig word. 

Wanneer jy ‘n Werk vind, moet nie Dink dit is die Einde van die Pad nie:  Nou is dit net so belangrik dat jy alles in jou mag doen om jou werk te behou as wat dit was toe jy na werk gesoek het.  Net die beste werkgewers het ‘n kans - maak seker dat jy een van die groep is.
Hier is 5 kragtige maniere hoe om NIE werk te kry nie (maar jy sal altyd besig lyk):

1. Lewe in die verlede
Indien jy regtig nie ernstig is oor die werksoekproses nie, bly net gefokus op die verlede.  Hou aan met praat oor al die dinge wat jy gedoen het, al die plekke waar jy al gewerk het (Onthou jy nog die When we’s?).
Dit is tipies vorentoe loop terwyl jy na agter kyk.  Jy kan nie sien waarheen jy gaan nie, maar nog meer tragies is al die wonderlike geleenthede wat jy so gaan mis.
Indien jy ernstig is oor werk vind, neem al die goeie uit jou verlede en fokus op die waarde wat jy kan voeg vir ‘n nuwer werkgewer, al die probleme wat jy kan oplos, die resultate wat jy kan lewer, al die unieke eienskappe wat jou jou maak.

2. Speel die Blameer Spel
Dit is een manier wat gewaarborg is om werk so ver as moontlik van jou te hou. Blameer die wêreld om jou, dit is tog geensins jou skuld dat jy sukkel om werk te vind nie.
Daar is die regering, die ekonomie, die vorige werkgewers, die hopelose werwingsagentskappe, jou skoonma, die bure se hond, en elke ander een waaraan jy kan dink.
Hierdie speletjie kan jou vir maande besig hou, sowaar ‘n treffer.
Indien jy liewer wil werk, neem verantwoording vir jou lewe. Maak nie saak hoe of waarom jy hier is nie, deur ander die skuld te gee maak jy geen verskil aan jou omstandighede nie.  Die enigste uitkoms is ‘n vermorsing van kosbare tyd.
Die wêreld skuld jou niks.  Jy moet self die uitkoms van jou lewe bepaal.

3. Skuil voor die computer
Hier is nog ‘n wenner.  Hoe gereeld gaan sit jy voor die computer met voorbedagte rade. En na ‘n paar uur van Facebook en aanlyn speletjies is jy niks vêrder met die werksoek proses as voor jy begin het nie.
Daar is seker nie ‘n meer gemaklike manier om werk te soek nie, jy hoef nie eens vir jou aan te trek nie, sit sommer so in jou japon voor die computer.  Jy e-pos jou CV, jy laai jou CV op ‘n paar webwerwe en siedaar jy het hard gewerk om werk te soek. En natuurlik kan jy nou weer jou lot bekla dat daar net nie werk is nie.
Die Internet, e-pos en sosiale webwerwe is maar net "tools." Die deurslaggewende faktor is jou verhouding met mense, nie tegnologie nie.  Jy sal slegs werk vind deur interaksie met mense en hoe gouer jy begin, hoe gouer sal jy suksesvol wees.

4. Wag 3 dae voor jy reageer
Jy sien die perfekte advertensie of iemand gee jou ‘n leidraad. Maar jy voel net nie lekker vandag nie, so jy stel dit uit tot môre of die volgende dag. En dan moet jy nog eers aan jou CV werk want dit lyk net nie reg nie. Teen die tyd dat jy wel jou CV wegstuur het die res van Suid-Afrika dieselfde gedoen en daardie leidraad is nou al yskoud.
Daar is nie ‘n manier dat jy die werk sal kry nie.
Wil jy werk?  Daar is net een manier en dit is spoed. Hoe gouer jy begin, hoe gouer sal jy sukses smaak.

5. Wees Desperaat
Hier is een manier wat redelik maklik beoefen kan word.  Jy moet regtig desperaat word en dit wys, in jou houding, in die manier wat jy kommunikeer, en probeer om elke hoek en draai vir almal te vertel hoe sleg dit met jou gaan.
Desperate mense kry nie werk nie, maak nie saak hoe goed jy dit kan doen nie.

As jy regtig ernstig is oor werksoek, doen dan net die teenoorgestelde van die 5 punte.

Die beste manier om sukses te smaak is om te glo dat jy suksesvol is.
Pak hierdie proses met selfvertroue aan, wees buigsaam, glo in jouself en weet dat jy unieke waarde het.
Jobs by Careerjet
Loer hier na beskikbare posisies!!
Privaatbeleid
Waarborg
Kopiereg
Siltra Consulting your professional CV writers
South African flag
[Tuisblad] [Agter die Skerms] [Advies en Raad] [Bepaal jou toekoms] [CV opstelling]
[Free Evaluation] [Engels] [Waar soek jy werk] [Kontak ons]
[Sê Wat Blog ]